Dit is vir my ‘n voorreg om verslag te kan doen aan die lede van Boland Tweekamp by die Algemene Jaarvergadering van 19 Junie 2026 met betrekking tot die 2025/2026 seisoen.
BESTUUR
Gedurende die afgelope jaar was daar 3 amptelike vergaderings van die bestuur. Die vergaderings is altyd deur ten minste 9 van die 10 bestuurslede bygewoon. Die vergaderings was konstruktief en het hoofsaaklik gefokus op die verbetering van byeenkomste, administrasie en reëlings vir provinsiale, inter-provinsiale en SA Kampioenskappe.
BYEENKOMSTE
Gedurende die jaar het Boland Tweekamp 7 provinsiale byeenkomste aangebied, wat die Boland Kampioenskappe op 21 Februarie ingesluit het. 3 Spanne is na Oudtshoorn se inter-provinsiale byeenkoms gestuur, wat 171 Bolanders die kans gegee het om deel te neem. Verder het Boland Tweekamp ook ’n span van 97 atlete na die SA Kampioenskappe wat op 21 Maart 2026 in Oudtshoorn gehou was, gestuur. Dit was die derde jaar dat ons gestremde/blinde atlete gehad het wat deelgeneem het. Boland was hierdie jaar die provinsie met die meeste inskrywings in die kategorie met 6. Spesiale woord van dank aan André Burger van Worcester vir al sy moeite, harde werk en koste hiermee.
Boland het 402 atlete gehad wat die jaar deelgeneem het. Dit het Boland die provinsie gemaak wat dié jaar die meeste atlete gehad het wat deelgeneem het.
Die bywoning by die verskillende byeenkomste was as volg:-
Die reëlings by al die byeenkomste was goed en alles het volgens plan verloop. Ons dank en waardering aan die skole wat hulle fasiliteite beskikbaar gemaak het en baie moeite doen – veral dankie aan die ou staatmakers naamlik Hoërskool Worcester Gimnasium, Hoërskool Bonnievale, Hoërskool Paarl Gimnasium, Hugenote Hoërskool, Rûens Kollege en Curro Langebaan en vir die onderskeie verteenwoordigers van die skole wat dit een groot plesier maak om byeenkomste daar aan te bied.
Boland is seker een van die min provinsies wat die meeste van hulle provinsiale byeenkomste in verskillende dorpe aanbied waarvan almal basies in die platteland is.
As gevolg van die ongegewes rondom atletiek en swem, bly die finalisering van datums en fasiliteite maar ‘n probleem. Ten spyte hiervan het ons weer ’n baie suksesvolle Boland Kampioenskappe aangebied op ’n Saterdag in Februarie. Dit het uiteraard gebots met ander sportsoorte wat veroorsaak het dat van ons beter Tweekampers ongelukkig moes kies tussen die verskillende sporte en wat dan uiteraard ook ’n invloed gehad het op die uitslae van die skolekompetisies.
My spesiale dank aan Johannes Adendorf wat as afsitter by al die byeenkomste opgetree het en ook aan al die ouers, onderwysers en bestuurslede wat gehelp het as beamptes.
PRESTASIES
Die standaard van ons atlete gedurende die jaar was weereens van hoogstaande gehalte.
Boland was eerste by die interprovinsiale byeenkoms in Oudtshoorn in die junior en senior afdelings en uiteraard dan algeheel eerste. By die SA Kampioenskappe in Oudtshoorn was Boland in die junior spankompetisie tweede en het algeheel ook tweede geëindig.
In Oudtshoorn by die Interprovinsiale byeenkoms het Boland 22 medaljes, waarvan 8 goud, 6 silwer en 8 brons was verower en was Kathy Gey van Pittius die Veterane Victrix Laudorum en het sy die SA Rekord verbeter. By die geleenheid het Ava Kruger dan ook die High Gate rekord verbeter vir dogters o/11.
By die SA kampioenskappe het ons die jaar weer 3 SA Kampioene opgelewer. Baie geluk aan Reynardt Grobler (Seuns o/13), Liezel Wessels (dames 50-59), en Kathleen Gey van Pittius (Meester dames 70+) . Reynard is ook aangewys as die Junior Victor Laudorum en Kathy as die Vetereane Vitrix Laudorm en die algeheel beste atleet by die byeenkoms.
Boland het 5 silwer en 6 bronsmedaljes verower. Baie geluk aan Albert Johan van der Spuy (Seuns o/11) Georgia Sabbagha (Dogters o/15) Emily Liebenberg (Dogters o/19) Willem Pierre Viljoen (Jnr Mans) en Mariaan Malan (Dames 50-59). Ons brons medale wenner was Elea Smith (Seuns o/9), Ava Kruger (Dogters o/11), Karlo Marais (Seuns o/11), Arden Kotze (Seuns o/17) Maryke Koen (Jnr Dames) en Ilse Beukman (Dames 60-69).
Die skole kompetisie was die jaar ook meer oop as gevolg van sportsoorte wat op dieselfde naweke aangebied word soos alreeds genoem.
Ek wil die skole wat aan die kompetisie deelgeneem het, ook baie geluk wens.
LEDEGELD
Ledegeld die jaar was R200 per atleet en skole affiliasie was R250. Ons voorsien nie dat dit die jaar wat kom verhoog gaan word nie. Ons as Boland Bestuur is trots hierop aangesien Boland seker die provinsie is waar die inskrywingsgeld die minste is.
ADMINISTRASIE
Ten spyte van die nuwe rekenaarprogram en al sy uitdagings het alle administrasie glad verloop en uitslae was baie kort daarna op die webwerf gesit. Ons spesiale dank aan Eloise Le Roux vir al die verwerkings en harde werk hiermee.
Die meeste inskrywings is via die webwerf gedoen en oor die algemeen het alles goed afgeloop en word die webwerf baie besoek. Ek wil dit weer beklemtoon dat die webwerf asseblief gereeld besoek moet word, aangesien dit die amptelike kommunikasie medium is.
Die suksesvolle hantering van die administrasie en reëlings kan en sal slegs gedoen kan word indien daar individue is wat bereid is om baie werk na ure in te sit. Ons bedank dan spesifiek die lede van die komitee wat daarvoor verantwoordelik was.
’n Spesiale woord van dank aan Annelie Human wat ook weer baie moeite gedoen het met nuwe tegnologie.
FINANSIES
Boland se finansiële posisie is baie gesond. Die detail is vervat in die finansiële verslag wat later voorgelê word. Na aanleiding hiervan het die bestuur dit dan ook die jaar goedgedink om die Boland swempette aan alle deelnemers aan die SA Kampioenskappe te borg.
ONTWIKKELING
Enige insette van hoe ons die sport by die voorheen benadeelde gemeenskappe kan uitbou sal baie waardeer word. Enige ander voorstelle oor hoe ons Tweekamp kan verbeter sal ook baie waardeer en moet asseblief deurgegee word.
Ons sal die nuwe seisoen ook hard werk aan die ouderdomsgroepe na skool en versoek dat ouers daarmee help.
Van die bes georganiseerde skole is van die ver platteland. Hier wil ek veral vir Laerskool Olifantsrivier, Pomario Privaatskool in Citrusdal, Curro Langebaan, Laerskool Bredasdorp en Rûens Kollege uitsonder.
Ek wil dan veral vir Petronel Burger Le Roux (Citrusdal), Dommonique Forté (Langebaan), Marli Slabbert (Klein Gim), Johannes Adendorff (Laerskool Bredasdorp) , Rozanne Le Roux (Rûens Kollege), Jean Stemmet (Hoërskool Paarl Gimnasium), Elizmé Burger ( Hugenote Hoërskool), Sané Nel (Bonnievale) en vir Mari-Louise Roets (Pomario) bedank vir hulle toewyding met die aanbied van Tweekamp by die skole, veral ook vir die skole waar byeenkomste aangebied word. Ek kan met sekerheid sê dat die sukses by die skole hoofsaaklik toe te skryf is aan hulle.
DIE PAD VORENTOE
Tweekamp is baie gesond in die Boland en ons as bestuur sal alles in ons vermoë doen om dit so te hou. Op nasionale vlak is dit ook gesond in sekere streke. Tans is daar ’n groot dryf om Tweekamp op nasionale vlak ook ’n handelsmerk te maak. Die skole kompetisie is ook een van die groot fokus areas.
Daar word ook hard gewerk aan die SA Tweekamp webwerf en die moontlikheid dat daar direk via die SA webwerf ingeskryf kan word vir byeenkomste. Die vordering hiermee sal soos dit vorder, gekommunikeer word.
Dan het SA Tweekamp ook ’n winsdeling model die jaar in werking gestel waar al die provinsies wat aan SA’s deelneem deel aan die wins, indien daar wins gemaak word. Dit was die jaar gebasseer op die hoeveelheid atlete wat in die provinsie deelgeneem het asook die hoeveelheid wat aan SA’s deelgeneem het. Met die dat Boland die jaar 402 atlete gehad het en 103 aan SA’s deelgeneem het en die surplus wat tydens die SA’s gemaak is het Boland se toedeling R42,362 gewees. Dit word ook sterk oorweeg om in die toekoms die hoeveelheid beamptes wat ’n provinsie beskikbaar stel vir SA’s te gebruik as ’n faktor.
Ons beplan om weer die komende seisoen ten minste 6 provinsiale byeenkomste aan te bied. Verder sal ons dan soos gewoonlik ook weer aan die Oudtshoorn Inter-provinsiaal en die SA Kampioenskappe deelneem.
Die SA Kampioenskappe word in 2027 weer in Oudtshoorn gehou op 2 en 3 April. Die Interprovinsiale byeenkoms sal op 6 Februarie 2027 weer in Oudtshoorn aangebied word.
Ek wil weer ’n ernstige beroep doen op ouers en skole-verteenwoordigers om hulle beskikbaar te stel om op die komitee te dien of om hulle te verbind om ons te help tydens byeenkomste. Dit is die enigste manier hoe ons sal kan verseker dat Tweekamp in die toekoms kan bly voortbestaan.
TEN SLOTTE
In geheel gekyk, was die jaar baie suksesvol. Ons is dankbaar vir die genade en talente wat ons van ons Hemelse Vader ontvang het en die bereidwilligheid en harde werk van verskeie persone wat dit moontlik gemaak het.
Ek wil dan ook net weer persoonlik baie dankie sê aan Annelie Human (Wessels) en JT Burger vir hulle goeie diens en ondersteuning die afgelope paar jaar. Ongelukkig kan hulle as gevolg van omstandighede nie verder op die komitee dien nie. Ons gaan hulle baie mis.
Verder wil ek ook weereens die res van die bestuurspan, die paar ander vrywilligers, ouers wat onder andere baie moeite doen om hulle kinders oor groot afstande getrou by byeenkomste te kry en ook bereidwillig is om te help as beamptes, bedank vir hulle bydraes en opofferings. Ons kan nie Tweekamp sonder julle hulp aanbied nie.
LEN SYMINGTON
VOORSITTER
19 Junie 2026