KENNISGEWING: BOLAND TWEEKAMP KAMPIOENSKAPPE
DATUM - SATERDAG 26 FEBRUARIE 2022
PLEK - HOËRSKOOL HUGENOTE WELLINGTON – GRASBAAN EN 25 METER SWEMBAD
AANMELDTYD : 07:15 – 08:15
UITSIT VAN UITDUNNE (ONDER 8 en 9’s) : 08:20
HARDLOOP BEGIN : 08:30
BAIE BELANGRIK TEN OPSIGTE VAN INSKRYWINGS
- GEEN LAAT INSKRYWINGS WORD AANVAAR NIE.
- GEEN NUWE INSKRYWINGS VAN OUDERDOMME O/8 TOT O/19 WORD TOEGELAAT NIE.
- TEN MINSTE 1,600 PUNTE MOES BY EEN VAN DIE BYEENKOMSTE WAARAAN DEELGENEEM WAS BEHAAL GEWEES HET OM TE KAN INSKRYF.
Inskrywings sluit Dinsdag 22 Februarie 2022 om 19:00 deur:
- In te skryf op die Boland Tweekamp webwerf – www.bolandtweekamp.org.za of
- Besonderhede te e-pos na symingtonl@pvbm.co.za
Inskrywings kan van vandag af gedoen word. Maak seker dat dit liewer te vroeg as te laat is.
BELANGRIKE REËLS
- Dit is baie belangrik dat u beskikbaarheid vir die span na die SA’s in Port Elizabeth op die inskrywing aangedui moet word. (O/8 uitgesluit).
- Moet asseblief nie atlete inskryf wat nie gaan deelneem nie, aangesien dit die uitsit van die uitdunne in veral die swem nadelig sal beïnvloed en die afhandeling van die byeenkoms onnodig vertraag.
- Een van die vereistes om aan die Boland Kampioenskappe deel te neem en oorweeg te word vir die Bolandspan om aan die SA Kampioenskappe deel te neem, is dat affiliasiegelde ten volle betaal is. Kontak Coenie Slabbert of myself indien u onseker is daaroor.
- Deelnemers wat nie gedurende die seisoen 1,600 en meer punte in ’n liga of in die inter-provinsiale byeenkoms behaal het nie kan nie inskryf vir die kampioenskappe nie.
- Die reëls soos aan die begin van die seisoen deurgegee sal geld met die kies van die span.
Indien‘n atleet vir ’n goeie rede en met die nodige toestemming nie aan die kampioenskappe kan deelneem nie, maar hy/sy is beskikbaar vir die span na die SA’s sal die volgende geld:-
- So ‘n atleet moet aan ten minste 3 ander Boland Tweekampbyeenkomste deelgeneem het (waarvan een in die tweede helfte van die seisoen was). ‘n Skriftelike versoek moet voor of op 19:00 op 22 Februarie 2022 aan my deurgegee word, waarin rede/s vir die versoek uitgespel word en waar die beskikbaarheid bevestig word.
- Indien ‘n atleet vir een of ander rede ongesteld is op 26 Februarie 2022, moet ‘n siektesertifikaat van ‘n erkende mediese praktisyn die aansoek vergesel. Dit moet persoonlik by my ingegee word voor die byeenkoms begin.
- Verder moes so ‘n atleet ‘n prestasie behaal het in die tweede helfte van die jaar wat aansienlik beter is as die van die eerste 6 atlete tydens die kampioenskappe en moet daar geen twyfel bestaan oor sy/haar algemene fiksheid nie.
- Die finale besluit hieroor berus egter nog steeds by bestuur.
- As gevolg van die impak wat Covid gehad het op die getalle wat deelneem, het SA Tweekamp besluit om die jaar provinsies toe te laat om ses deelnemers per ouderdomgroep in te skryf.
- Daar is nie ’n O/8 afdeling by die SA Kampioenskappe nie maar wel by Boland Kampioenskappe.
Neem ook asseblief weer kennis dat by die byeenkoms die skole kompetisie sal geld. Aangesien daar nie Hoërskole was wat aan die vereistes voldoen het nie sal net die beste laerskool hier aangewys word gegewe hulle prestasies by dié kampioenskappe (net indien daar ten minste ’n vol span ingeskryf kan word). Vir die doel moet skole wat hiervoor in aanmerking wil kom, hulle spanne uiteraard vir my deurgee met die inskrywings.
EK DEEL OOK GRAAG DIE VOLGENDE BELANGRIKE INLIGTING VROEGTYDIG MET U OM TE HELP MET BEPLANNING EN OM TE VERSEKER DAT ALLES ORDELIK VERLOOP:-
HARDLOOP
- Die hardloopitems sal om 08:30 begin en indien alles volgens plan verloop om ±09:45 klaar wees. Die volgorde van die nommers sal as volg wees:-
- Dogter O/8 - 400 meter en 25 meter swem
- Seuns O/8 - 400 meter en 25 meter swem
- Dogter O/9 en atlete 60+ - 400 meter en 50 meter swem
- Seuns O/9 – 400 meter en 50 meter swem
- Dogters O/11- 400 meter en 50 meter swem
- Seuns O/11 - 400 meter en 50 meter swem
- Dogters O/13 – 800 meter en 50 meter swem
- Seuns O/13 - 800 meter en 50 meter swem
- Dogter O/15 – 800 meter en 100 meter swem
- Seuns O/15 - 800 meter en 100 meter swem
- Dogters O/17- 800 meter en 100 meter swem
- Seuns O/17 - 800 meter en 100 meter swem
- Dogters O/19 - 800 meter en 100 meter swem
- Seuns O/19 - 800 meter en 100 meter swem
- Dames 20 – 59 - 800 meter en 100 meter swem
- Mans 20 – 59 - 800 meter en 100 meter swem
- Afhangende van die getal atlete per ouderdomsgroep kan van die ouderdomme saam hardloop.
- Na die hardloop beweeg almal na die swembad.
SWEM
- Die swembad sal eers vanaf 09h30 oop wees.
- Die swembad is net aan die bokant van die atletiekbaan, net onder die koshuis.
- Die beplanning is dat die swem so ±20 minute na die hardloopitems afgehandel is, sal begin. Indien alles volgens plan verloop, behoort die swemitems om 11:30 afgehandel te wees.
- Die volgorde sal net soos in die hardloop wees
- Die uitdunne vir die swem sal sover as moontlik saamgestel word deur die swemtyd van die van die swemmer te gebruik wat by Oudtshoorn 2022 behaal was.
- Waar nodig, kan van die verskillende ouderdomsgroepe saamgegooi word om die bane in die verskillende uitdunne so vol moontlik te hou.
Bring asseblief u eie stoele en iets vir skaduwee saam aangesien daar nie pawiljoene by die swembad is nie (en Wellington kan warm word!!!).
VERWERKING VAN PUNTE EN MEDALJE-OORHANDIGING
- Tussen ±11:30 en ±12:00 sal die punte verwerk word, die wenners bepaal, Bolandspan vir die SA’s gefinaliseer word en ander administratiewe werk afgehandel word.
- Om ±12:00 sal medaljes oorhandig word aan die eerste 3 atlete per ouderdomsgroep en die wenners in die skole kompetisie. Dit sal by die atletiekbaan se pawiljoen plaasvind.
DIE AANKONDIGING VAN DIE SPAN OM BOLAND BY DIE SA KAMPIOENSKAPPE TE VERTEENWOORDIG
- Die span sal onmiddellik na die medalje-oorhandiging aangekondig word.
- Die nodige dokumentasie sal dan uitgegee word. Verseker dat u daar is om dit te ontvang of dat u reël met iemand om dit namens u te doen. Indien dokumentasie nie afgehaal word nie neem ons aan dat so iemand nie beskikbaar is nie en sal so iemand uit die span gelaat word.
- Daar sal dan ook ’n geleentheid wees om klere aan te pas.
- Alle aksies/betalings moet volgens die riglyne in die betrokke skrywes hanteer word. Dit is uiters belangrik aangesien ons op nou spertye moet werk vir die indien van die span ens.
- Alleen sodra ‘n atleet sy verpligtinge nagekom het, is hy/sy amptelik in die span. Indien dit nie gebeur nie, sal so iemand uitgelos word en sal die volgende atleet op die lys genader word vir die span.
- Ons het nou weer ervaar met die Oudtshoorn byeenkoms dat ouers/atlete nie hou by die versoeke nie.
- Slegs atlete wat fisies aan die SA Kampioenskappe deelneem, kwalifiseer vir Bolandkleure.
SA KAMPIOENSKAPPE
- SA’s word dié jaar in Port Elizabeth gehou op 1 en 2 April 2022. Kostes en ander inligting sal deurgegee word sodra dit beskikbaar is.
VERVOER EN VERBLYF
Vervoer na die SA Kampioenskappe word nie gereël nie. Atlete moet hulle eie vervoer en verblyf reël. Dit is uiteraard belangrik om hiervan te weet met die besluit om beskikbaar te wees.
Kontak my indien iets onduidelik is of as meer inligting verlang word.
Len Symington
082 875 2257